Статья опубликована в Transactions of the Geological Society of
South Africa, 1972, 78, pp. 159—
171. На языке африкаанс. "Перехват рек и влияние сбросов на
геоморфологию в районе р. Стилпорт в Восточном Трансваале"
Описываются признаки перехвата рек на примере р. Стилпорт.
Die loop van die Steelpoortrivier kan in drie dele verdeel word:
(i) die boloop wat vermoedelik 'n geroofde gedeelte van die
Bloedrivier voorstel, (ii) die noordvloeiende gedeelte noord van
Laersdrif, wat van die Sekwatirivier geroof kan wees, en (iii) 'n
reguit noordoosstrekkende vallei wat sy ontstaan te danke het aan
'n aaneenskakeling van verskuiwingsones. Laasgenoemde gedeelte sny
oor 'n ouer dreineringstelsel wat 'n noordwaartse vloeirigting
gehad het en wat bepaal is deur die strekkingrigting van die
stollings en die sedimentêre gesteentes. Weens die diskordante
verhouding van die Steelpoortrivier tot die ouer rivierstelsel, is
die opvanggebied van die Steelpoort onsimmetries: lang sytakke
vanuit die suide en baie korteres vanuit die noorde. In die geval
van die twee sytakke, nl. die Kliprivier en die Mosohlotsispruit,
het strekkingsverskuiwings hulle ontwikkeling beheer. Die groter
sytakke van die Steelpoortrivier vanuit die suide swenk naby hulle
aansluiting en dit word toegeskryf aan onthoofding. Die onthoofding
is sodanig dat 'n stroomopwaartse sytak wat reghoekig by die
hoofrivier aansluit 'n ander sytak wat laer af en skerphoekig
aangestuit het, afsny en sy waters roof. 'n Skerphoekige
aansluiting is blykbaar geomorfologies onewewigtig omdat in so'n
geval kompetisie ontstaan tussen die hoofrivier en die sytak in
hulle pogings om hulle valleie te verbreed, en dit is nie die geval
met reghoekige aansluitings nie. Etlike gevalle van stroomroof in
die bolope van die sytakke van die Steelpoortrivier word bespreek
en kronkels is in baie gevalle herkenbaar onmiddellik stroomop van
die punt van onthoofding. U-vormige valleieword aangetref, maar
hulle is in 'n mate onsimmetries in profiel en het waar- skynlik
nie deur gletserwerking tot stand gekom nie, maar is eie aan 'n
omgewing van gabbroiese gesteentes. Geen oortuigende gegewens kon
gevind word dat die dreineringstelsel van die Steelpoortrivier
geërf is van die topografie van die Karoosisteem nie. Dit is
grootliks bepaal deur die bestaande geologiese formasies, die
geologiese struktuur en gewone prosesse van erosie, waarin
stroomroof 'n belangrike rol gespeel het.